Eventfinder

Victor Bravo

Victor Bravo Bio

’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek, het gelei tot die ontstaan van die akoestiese duo, Victor Bravo, wat vanaf 2018 saam optree by kuierplekke in die Vaaldriehoek en omliggende areas.

Die groep, wat bestaan uit Weco van Basten en Jopie Pienaar, het ’n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke soomloos laat saamsmelt om ’n vars en nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind.

In die kort tydjie wat hulle saam musiek maak, het die musiekpaar verskeie hoogtepunte beleef. As deel van die Local is Lekka-kompetisie; wat deur die bekroonde Country-ster Vernon Muso, VCR 90.6, IFM Radio 102.2, Mooivaal Media en Barnyard Vereeniging aangebied word; het hulle die voorreg gehad om te open vir komedielegende, Barry Hilton, se konsert. Verder was Victor Bravo ook deel van die On Tap-kunsbierfees by Emerald Resort & Casino en het hulle al by verskeie groot nasionale kuierplekke opgetree, waaronder Shovels Pub and Grill, Café Barcelona én die Yami Rib & Burger-groep se verskillende restaurante.

BREAKWAY LINE, die groep Victor Bravo se debuut-enkelsnit, Breakway Line, wat deur Renier Henning vervaardig is, kan gereeld gehoor word op GrootFM 90.5, Whale Coast FM 91.4, Kosmos Stereo 99.3, CFM Overberg 89.3, FM Stereo, IFM en VCR. Dit het ook reeds speeltyd ontvang op Marius Dreyer en Zachelle Howard se ontbytprogram – Morning Mix@6 – (waar die duo in die ateljee gekuier het) 90.6 FM Stereo, Cousin Rick se program op IFM, asook Francois Deysel se program op FM Stereo, en die reaksie was oorweldigend. Tans bekleë dit die Nommer 1-posisie op Springbok Internet Radio se Top 20 vir die vyfde week.

Die musiekvideo (tans op kykNET NOU), in samewerking met Troukoors Tydskrif, is deur Dehan Janse van Rensburg verfilm by Die Windpomp Kroeg, Mediclinic Emfuleni en Duck Point Venue.

OOR DIE GROEPLEDE

Voorsanger, liedjieskrywer, ritmekitaar- en klavierspeler, Weco van Basten, kom uit ’n musikale familie wat gereeld saamkuier om die braaivleisvuur met ’n kitaar in die hand en ’n liedjie om te deel. Hy het hoofsaaklik in Sasolburg grootgeword en van kleins af musieklesse geneem, in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan al wat kunswedstryd en konsert is. Gedurende die laaste twee jaar van sy laerskoolloopbaan, was hy ook lid van die Drakensberg Seunskoor. Omdat hy nog altyd passievol was daaroor om mense te vermaak en die stories in sy hart op papier te deel, is hy na skool Amerika toe om Drama en Engelse Kreatiewe Skryfkuns te studeer. In hierdie tyd, was hy deel van die akoestiese groep, Victim, wat gereeld in en rondom Houston opgetree het. Die finale twee jaar van sy Taalstudies, is by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi, waar hy ook sy vrou ontmoet het. Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, sonder hy kunstenaars R.E.M., Cat Stevens, Sarah McLachlan, Eric Clapton, Ted Hawkins, Karen Zoid, Klopjag, Eminem, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, 2nd Life en Jo Black uit as musikante wat, vir verskeie redes, sy eie styl tot dusver beïnvloed het. Hy verklap verder dat enigiets hom kan inspireer om ’n liedjie te skryf op die regte oomblik. “Alledaagse dinge, soos koudkry, braaivleis en vriende, gee my soms idees vir lirieke. Maar dis die rou menslike oomblikke, daardie hartverskeurende mooi insidente waar die menslike weerloosheid naak lê vir almal om te sien, wat my die meeste tref… en dan moet ek skryf,” sê hy. Natuurlik is al sy musiek nie ewe ernstig nie en het hy dit geniet om onlangs die treffer, Boontasties, vir die trap-kunstenaar BOON se eerste album te skep. ’n Tweede lied, Sê Net Wat Jy Wil Sê, is ook deur dié kunstenaar aanvaar, maar verskil hemelsbreed van sy prettige voorganger.

Hoofkitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Jopie Pienaar, is ’n passievolle musikant met ’n natuurlike talent om van die kitaar een van die hoofrolspelers in enige musiekproduksie te maak.  Musiek was nog altyd deel van sy lewe en iets wat hom kon laat goed voel in enige fase of situasie waarin hy homself bevind het. Nadat hy op die ouderdom van veertien sy eerste rockkonsert (Straatligkinders) bygewoon het, het hy ’n kitaar aangeskaf en homself leer speel. Op hoërskool was hy deel van die band, Mad About You, en was hy ook betrokke by verskeie musiekprojekte by die skool en kerk. Dit is egter die tye, rondom die braaivleisvuur saam met Weco, wat vir hom uitstaan en wat hy beskou as die amptelike ontstaan van Victor Bravo. Wanneer hy nie besig met optredes nie, is hy ook ’n fiksheidsinstrukteur by Crossfit in Pretoria en werk hy daaraan om sy eie talent en selfvertroue as sanger en liedjieskrywer verder te ontwikkel. Buiten vir sy groot liefde vir Bluesmusiek, meen hy dat groepe soos Blink 182, Fokofpolisiekar, Dire Straits, Pink Floyd, Lynyrd Skynyrd en Kings of Leon die grootste invloed op sy kitaarstyl gehad het. “Tans luister ek na Spoegwolf. Hulle manier van skryf en hoe hulle musiek opbou en vloei, is baie goed. Ek hou ook van Rainbow Kitten Surprise se vreemde styl, metafore en die hoofsanger se stem,” vertel hy.

Victor Bravo wil hê dat hulle musiek moet wees watookal die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.

BREAKWAY LINE kan afgelaai word op iTunes, Spotify, Google Play, Deezer, Apple Music, Amazon Music en ander aanlynplatforms.

LAAI DIT AF

iTunes

Deezer

Google Play

Apple Music

Spotify

Napster

Amazon Music

YOUTUBE VIDEOS

Breakway LineVictor Bravo Original

Dancing On My Own (Cover)

Vat My Saam (Oorspronklike werk)

Home (Cover – Weco van Basten)

Don’t Think Twice It’s Allright (Cover – Jopie Pienaar)

Stay (Original – Weco van Basten)

 

WAAR ONS AL OPGETREE HET

* Barnyard Vereeniging                * Willows Bar at Emerald Casino (Vdbjl)

* Shovels Pub & Grill (PTA)          * Yami Rib & Burger (Grey Owl and Sinoville)

* Horse & River (Vdbjl)                  * Lord’s Signature Hotel (Risiville)

* German Club (Vdbjl)                   * Die Windpomp Kroeg (Meyerton)

* Open Table (Vdbjl)                      * Indunduma Resort (Koppies)

* Cow & Bull (Three Rivers)         * Emerald Casino on Tap Craft Beer Festival (Vdbjl)

* Route 96 Brewery (Potch)        * AB’s Pub & Grill (Parys)

* ChicaD (Vereeniging)                  * Kroonheuwel Primêre Skool (Kroonstad)

* The Shack (Vaalpark)                  * Fisherman’s Pub & Grill (Deneysville)

* Buffalo Ranch (Randfontein)   * Dros Vanderbijlpark

* Tuscany (Vereeniging)                               * Nippertjie Musiekfees, Ingwe Lodge (Vdbjl)

* Dean’s Log Inn (Meyerton)      * Rivier Plaas – Troue (Meyerton)

* Die Plaasdam – Troue (Vereeniging)

* Café Barcelona (PTA)

* Nibbles Market, Monte de Dios (PTA)

* Stage (Klerksdorp)

 

VOLG VICTOR BRAVO OP SOSIALEMEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/VictorBravoMusic

Twitter: @VictorBravoMusic

Instagram: @VictorBravoMusic

Web: https://victorbravomusic.wixsite.com/mysite

SoundCloud: https://soundcloud.com/user-625588893/breakway-line

Hutsmerke: #VictorBravoLive #BreakwayLine

 

×
×

Cart