Eventfinder

Stephan Visagie

Stephan Visagie Bio

Niemand, nie eens sy ma-hulle, het geweet dat hy begin sing het nie. Maar toe Stephan Visagie besluit het dis iets wat hy verder wil vat, het hy ook sy talent as liedjieskrywer ontdek.

“Musiek was nog altyd deel van my lewe en ek hou van omtrent alle soorte musiek, maar ek was al in my dertigs toe ek besluit het om vir sanglesse by Chris Coetzer te gaan,” vertel Stephan. “Dit was op sy aandrang dat ek besluit het om my musiek verder te voer.”

Daar is 14 snitte op sy album, “4 Keeps”, agt daarvan uit sy eie pen.

“Ek skryf die afgelope vier jaar liedjies. As ek moes kies , sou ek sê “Kronkelpad” is my gunsteling liedjie op die album. Ek het vir twee jaar in Rooi Els aan die Kaapse kus gewoon en vir daardie twee jaar het die wind omtrent drie jaar gewaai,” lag hy. “Maar die liedjie beskryf ook daardie tyd in my lewe. Die omgewing leen hom tot ‘n liedjie van heimwee.”

‘n Ander onderwerp waaroor hy graag skryf, is die liefde.

“Ja, ek sou sê dit is beslis my gunsteling onderwerp. Alles oor die liefde – die goed en die sleg. Ek skryf ook graag liedjies oor dinge van ons land wat my na aan die hart lê,” sê Stephan.

Hy het vir Christa Steyn deur Chris ontmoet en sy het ‘n groot invloed op sy musiek gehad. “Ek en sy het ure lank gesels toe ons in die ateljee was,” sê hy. “Sy speel klawers op van die snitte en haar seun Douw was betrokke met die produksie. Sy laat ‘n groot gemis.”

Stephan is ook ‘n visuele kunstenaar en kan gereeld met ‘n kamera of verfkwas in die hand gesien word waar hy prentjiemooi-oomblikke op film vasvang of op doek uitbeeld, maar deesdae neem die musiek ‘n groot deel van sy lewe oor.

“Ek hoop hierdie album doen goed en dat die mense wat dit koop dit geniet,” sê hy. “Hierdie album is vir my een waarop ek graag sal wil voortbou vir ‘n volgende album.”

Behalwe die liedjies deur Stephan is daar ook twee deur Stef Kruger – “Vergeet” en “Langkloof” – asook ‘n opname van Koos du Plessis se “Gebed”, “Heart” van Gene Rockwell en “Queen of the Silver Dollar” wat deur Dr. Hook bekend gemaak is.

Musikante en stemme wat betrokke by die opnames was, is Theuns Botha en Vinnie Henrico (tromme), David Klassen (perkussie), Juan Oosthuizen, Mauritz Lotz, Jasper van Rensburg, Gert Mostert en Douw Steyn (kitare), Christa Steyn (klawers), Ricus Nel (mandolien, banjo en pedal steel) en Karen Wessels, Zaretha Duvenhage, Christa Steyn en Douw Steyn (agtergrondsang). Die meestering is deur Fuzz gedoen.

Volgens Maroela Media was 4 Keeps no.17 van die Top 20 albums wat in 2013 vrygestel is. Die lys is saamgestel deur na radiostasies regoor die land se treffersparades te kyk. Met 4 Keeps en Kronkelpad wat letterlik geboer het op van die land se voorste gemeenskaps-radiostasies, kon dit nie anders as om hierdie lys te haal nie. In die Wes-Kaap is Stephan as sanger en skrywer benoem tydens die Bokradio se Bokkies 2013. Hy is benoem in die kategoriëe, Beste Nuweling asook Liedjie van die Jaar. “4 Keeps” was ook in Mei 2014, tydens die Huisgenoot Tempo Toekennings, as nuweling van die jaar benoem. Stephan hoop dat dié benoeming net die begin sal wees van nóg groter dinge wat vir hom voorlê.

Stephan Visagie Facebook Blad: https://www.facebook.com/stephan4keeps/

×
×

Cart