Eventfinder

Hugo Nieuwoudt

Hugo Nieuwoudt Bio

Hugo Nieuwoudt wat reeds vir die afgelope 15 jaar binne die plaaslike musiekbedryf werksaam is, het deur die jare heen by van die grootste en gewildste feeste en teaters regoor Suid-Afrika opgetree. Dié 44-jarige sanger met die treffende baritonstem is in Natal gebore, maar het in die Vrystaat en in Gauteng groot geword. Hy spot egter altyd deur te sê dat dit eers in die Kaap is waar hy werklik “mens” geword het toe hy geleer het hoe om onder die hange van Tafelberg snoek te eet en wyn te drink. Dié 44-jarige sanger met die treffende baritonstem is saam met Sunette, sy vrou van die afgelope 22 jaar asook hulle twee seuns, Dean en Lehan op die Paarl, ‘n skilderagtige Bolandse dorp woonagtig. Die 18-jarige Dean is ‘n kranige rugbyspeler terwyl die 11-jarige Lehan moontlik daarin sou belangstel om ook as ’n sanger in sy pa se voetspore te volg.

Hugo wat vroeër in sy lewe ’n tronkbewaarder was, het deesdae as voltydse sanger die voorreg om sy onblusbare passie vir musiek ten volle te kan uitleef. Sy musikale talent was reeds vanaf ’n baie jong ouderdom by hom te bespeur toe hy as ‘n agt-jarige seuntjie ‘n besondere belangstelling in kunstenaars soos Sonja Herholdt en Ken Mullin, maar veral Joe Dolan se musiek getoon het. Hy kon egter daarin slaag om hierdie kinderdrome van hom te bewaarheid soos duidelik blyk uit sy duet saam met Sonja Herholdt sowel as sy huldeblyk album aan Joe Dolan waarmee hy na al hierdie jare kan spog. Hy ontvang verder ook gereeld nominasies vir plaaslike musiek toekennings soos onder andere die twee Bokkie Musiek Toekennings waarvoor hy gedurende 2018 in die kategorieë, “Sanger van die jaar” en “Album van die jaar” benoem is.

Hugo Niewoudt se vyfde album, Net soos die sneeu in samewerking met BBS Records bied nes al sy voorgangers ’n mengsel van strelende pop, rock en country melodieë wat ongetwyfeld harte gaan verower. Dit volg op die sukses van sy vorige album, Want jy glo in my waarop die bonussnit, Ek wil lewe vir môre ’n reuse treffer vir hom opgelewer het. Hugo het egter besluit om hierdie keer heeltemal uit sy gemaksone te beweeg deur homself met van die voorste en mees gedugte musikante sowel as liedjieskrywers binne die Afrikaanse musiekbedryf te omring. Dié album wat uit 12 oorspronklike snitte sowel as ’n ritmiese keurspel van immergroen treffers bestaan, beloof om nie slegs luisteraars se voete behoorlik te laat jeuk nie, maar ook om hulle elkeen opnuut weer introspeksie te laat doen. Dit bevat liedjies uit die pen van Hugo Nieuwoudt self sowel as die uiters talentvolle Rudi Claasse, Michael Lindt, Johan Brits, Mari Bosman en Werner Beukes. Die vervaardiging en verwerking van alle snitte op dié album wat deur Werner Beukes van Glow Star Entertainment behartig is, lewer ook ’n ongelooflike belangrike bydrae tot die sukses daarvan.

Die emosiebelaaide titelsnit, Net soos die sneeu vertel van hoe ’n man verbete bly vasklou aan die belofte wat sy pa destyds as ’n klein seuntjie aan hom gemaak het dat hy na die oorlog na hom sou terugkeer. Toekomsbladsy, die eerste enkelsnit vanaf dié album, vergelyk die nuwe hoop na afloop van die seerkry in verhoudings met ’n nuwe, skoon bladsy wat wag om gevul te word. Die nostalgie word beslis aangewakker deur Trompie, ’n snit oor dié gewilde televisiekarakter wat op ’n stadium enige jong seun se onbetwiste held was. Oorlogkamer vertel op ’n baie aangrypende wyse van die gevegte binne elke persoon wat hy of sy dikwels met hom- of haarself voer. The Better Man wat die enigste oorspronklike Engelse snit op dié album is, moedig luisteraars aan om die potensiaal binne hulleself uit te leef en sodoende ’n beter weergawe van hulself te word.

Hugo glo en vertrou dat dié dankseggingsalbum baie goed deur die publiek ontvang sal word aangesien elke liedjie daarop iets is waarmee hy homself ook kan vereenselwig. Hy streef immers daarna om sy vreugde, dankbaarheid en liefde vir die lewe sowel as musiek op elke album positief uit te beeld. Net soos die sneeu met sy lewenswaarhede, beeldryke lirieke en aansteeklike ritmes sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit in die verskillende seisoene van sy of haar lewe verlief, verlore of verdwaal geraak het.

Hugo Nieuwoudt Facebook Blad: https://www.facebook.com/HugoNsing/

×
×

Cart